ZZ2: Die vele voordele van volhoubare vrugteboerdery

Soos gepubliseer in Landbou Weekblad 13/04/2018

Biologies volhoubare boerdery is nie ’n kortpad nie, maar met die nodige geduld sal die resultate jou verstom. Ná 16 jaar waarin ZZ2 sy benadering van natuurboerdery gevolg het, het koolstofvlakke in die grond begin styg, die boerdery gebruik minder water en dien boonop minder stikstof toe — en dít met opbrengste wat verdubbel

By ZZ2, die reuse-vrugte-en-groente-onderneming met plase in onder meer Limpopo en die Wes-Kaap, het die afgelope byna twee dekades ’n nuwe verhouding tussen. Die nuwe verhouding het ontstaan toe ons gedwing is om op te let en te kyk wat in die boorde gebeur,” het mnr. Hendrik Pohl, produksiebestuurder van ZZ2 se vrugteplase op Ceres, op Landbouweekblad se grondgesondheidsdag op Joostenbergvlakte gesê.

Van die resultate van dié nuwe verhouding is dat die onderneming met minder water klaarkom sonder om die opbrengs te benadeel, net ’n sesde van die stikstof toedien wat hulle aanvanklik gegee het en aansienlik meer koolstof in die grond meet as destyds.

NATUURBOERDERY SAAMGEVAT

“Ons probeer om ’n stabiele stelsel op die plaas te hê. Met die aanbreek van die 21ste eeu het ZZ2 ’n boerderyfilosofie genaamd Natuurboerdery ontwikkel. Ons gedagtes is gelei deur die opmerklike agteruitgang van die grond met die gebruik van kunsmatige bemesting, die ewige soeke na maniere om koste te besnoei, asook die onvolhoubare ekonomiese, maatskaplike en omgewingstoestande waarin die industriële landbou homself bevind het.”

In ’n neutedop: Die grond op hul plase het swakker en swakker geraak en dit het ál meer gekos om dit te onderhou. Die antwoord
het hulle by die natuurboerdery-filosofie, wat hulle self ontwikkel het, gevind. “Die landboupraktyke en -prosesse in die natuurboerdery-benadering is gemik daarop om die beste tegnologie in harmonie met die wette van ’n lewende natuur te gebruik. Die belangrikste daarvan is doeltreffendheid en aanpasbare volhoubaarheid,” het hy hul beleid uiteengesit. “Dit beteken ons hou daarvan om ’n mengsel te maak van dít wat ons by die industriële landbou geleer het oor wat plante benodig om ’n goeie oes voort te bring, saam met dít wat ons van die natuur en biologie kan oes.” ’n Ander manier om dit te stel, is om weg te beweeg van “harde, geïndustrialiseerde landbou” en plek te maak vir meer “sinvolle beginsels van organiese boerdery”.

KOMPOS EN DEKGEWASSE
Hendrik sê hulle volg ’n stelsel wat ten volle geïntegreer is. Hulle kyk dus nie na ’n enkele legkaartstukkie nie, maar na die héle legkaart, wat bestaan uit ekonomiese, maatskaplike en produksie-volhoubaarheid. Kompos, wat hulle self by Lumbri-kompos in Ceres maak, skop die hele stelsel aan die brand. “Dis die ruggraat van ons hele plantvoedingsprogram,” sê Hendrik. Hulle pak jaarliks 20 m³ kompos per hektaar, gewoonlik net ná oestyd, op die bankies uit en bedek dit dan dadelik met strooi of houtkerfsels. Kompos word meganies in ’n band op die bankie of met die hand in ’n hopie om die sproeier geplaas – nie om die boom se stam nie. “Ons glo daaraan om die biologie te voed, maar ook om dit ’n huis te gee. Dink aan die kompos as kos vir ons grondlewe en die bedekking as ’n huis daarvoor.” In die boord is daar twee areas, die bankie en die werkry. Die bankie is hoofsaaklik in skaduwee gehul en dit is daar waar hulle die kompos uitpak en bedek – spesifiek in die area waar hulle besproei. In die werkry plant hulle dekgewasse, hoofsaaklik swenkgras, as ’n boord gevestig word. “Ons nuwe gedagterigting gaan oor boordvloerbestuur. Ek glo dit is die weg van die toekoms. Sowat ’n derde van die strooi wat ons uitpak, kom uit die Swartland. Ons wil dit vervang deur eerder ’n derde self in die boord te produseer. Dis moeilik omdat daar skadu-areas is waar ons nie bewerk nie, maar ons sal iets hier moet kry wat werk en divers (soos gras en peulplante) is. Ons kan baie probleme in die boord oplos deur die regte dekgewas te kies,” sê hy. Hulle “speel tans rond” met ’n nuwe dekgewasstelsel wat meer divers is en moontlik jaarliks gesaai sal moet word. Wat chemiese bemesting betref, dien hulle wél nog stikstof toe – maar dit het oor die jare baie afgeneem en vind slegs plaas waar hulle tekorte sien. “Stikstof is ’n probleem, want ons kompos en bedekking bevat nie baie stikstof nie. Dis moeilik om kompos te maak met meer as 1,5% stikstof.”

GRONDVOORBEREIDING

Hendrik sê die boorde se grondgesondheid het sedert 2001 aansienlik verbeter. “Grondgesondheid verwys na die grond se vermoë om produktief gebruik te word sonder om toekomstige produktiwiteit, die ekostelsel of die omgewing te benadeel. Die benadering beklemtoon die integrasie van biologie saam met die chemiese en fisiese kenmerke van grondgehalte wat ’n invloed sal hê op die boerdery se winsgewendheid en op die omgewing. Dis ’n bekvol!” Hy het ’n foto gewys van ’n profielgat, sowat 77 cm diep. Die voedingswortels is duidelik in die boonste deel van die grond, waar die kompos en bedekking neergesit is. Daar is egter ook ’n goeie wortelbedding sigbaar, wat mettertyd ontstaan het. “Dié boord is in 1996 geplant en was dus sowat vyf, ses jaar oud toe ons met die natuurboerdery- stelsel begin het. In ’n gewone situasie is daar net wortelontwikkeling tot sowat 40 cm diep, maar ons kry nou al heelwat dieper wortelgroei.” Hul manier van grondvoorbereiding het op grond daarvan verander. Boorde word meganies voorberei tot op ’n diepte wat die grond dit toelaat – gewoonlik 800 mm tot 1 000 mm. Chemiese balansering vind plaas tot op die diepte wat meganies voorberei kan word. “Dit gee ons die vermoë om ’n dieper wortelstelsel te laat ontwikkel. Ons weet met ons biologiese benadering kan ons lug, water en biologie daar onder kry, wat beteken ons sal die wortels daar kry.” Erdwurmtonnels is een manier hoe hul grond belug word. Die wortels is geneig om die suurstof en erdwurms in die grond te volg. “Dis die manier hoe ons die kos wat ons op die grond neergesit het, in die grond kry. Jy moet die biologie gebruik; dit kan nie vanself ingaan nie.”

VOEDINGSTOWWE BESKIKBAAR

Hendrik sê die voedingstowwe in sy grond is altyd beskikbaar danksy die biologiese stelsel wat dit beheer. “Die besluit of die plant stikstof wil hê of nie, lê nie meer by my nie. Die plant skei deur sy wortels boodskappe af dat hy stikstof nodig het en dat die mikro-organismes dit moet voorsien.”

Met die aanvang van die natuurboerderystelsel in 2001 het die boerdery 160 kg tot 240 kg suiwer stikstof per hektaar per seisoen toegedien. Dit lê nou op 40 kg per hektaar per seisoen, en ook net as ’n boord dit nodig het (sien die KASSIE hiernaas). “Ons evalueer die boorde en sal net in twee gevalle stikstof gee: as daar nie genoeg groei is uit ’n balans-oogpunt nie en as daar probleme is met boomkleur.” Ten spyte van die probleem om stikstofryke kompos te maak, is daar nie ’n behoefte aan baie stikstof op hul gronde nie. Die fosfaatvlakke is gewoonlik goed, maar kalium was aanvanklik ’n struikelblok. “Organiese materiaal bevat gewoonlik baie kalium, en kalium en kalsium hou nie baie van mekaar in die grond wat opname betref nie. In die begin was ons besorg dat ons kaliumvlakke in die grond gaan styg met die organiese materiaal wat ons op die bankies neersit, maar dit het nie gebeur nie. Om die een of ander rede het die kaliumvlakke gedaal.” Hendrik meen dit stem ooreen met die opbrengs per hektaar wat die afgelope paar jaar volhoubaar toegeneem het.

BETER OPBRENGSTE

Hendrik sê hul bome is ook gesonder as vantevore. “Ons sien verbeterde gehalte en opbrengste. In appelboorde is boombalans baie belangrik as jy jaar ná jaar ’n goeie opbrengs wil verseker. Ons kry dit reg.” Volgens hom het die boerdery se gemiddelde Golden Delicious-oes in 2009 net onder 60 t/ha gestaan. Verlede jaar was die plaasgemiddelde 120 t/ha. “Die vrugte hou ook beter. Kalsiumtekorte is ’n groot probleem by appels. Dit kan bitterpit veroorsaak en moet chemies behandel kan word. Ons spuit nog tot tien kalsiumspuite per seisoen, maar dis al wat ons doen. Ons kan dit korreleer met die hoeveelheid wortelgroei wat ons in die grond het. Kalsium word by die wortelpunte uit die grond opgeneem. Ons het baie wortelpunte en dus kan jy die somme maak – daar is meer plek om kalsium uit die grond op te neem. Die voordeel is dat ons nie ’n bitterpitprobleem het nie, selfs al word die vrugte laat in die seisoen – tot Januarie – oorsee bemark.”

STRESBUFFER IN GROND


In 2001 was die koolstofpersentasie in die grond maar 0,4%. Teen 2006 was dit 2,5% en in 2015, die laaste keer toe hulle gemeet het, het dit gestyg tot 3,5%-4% (sien GRAFIEK 1 ). “Dit gee ’n mens ’n idee van wat kan gebeur, maar dit het ons ’n groot deel van 16 jaar gekos om by dié punt te kom.” Hulle spuit al vir 14 jaar nie meer teen bloedluis (Eriosoma lanigerum) in hul boorde nie. “Elke hond het vlooie, en die bloedluise is in die boorde, dis nie uitgewis nie, maar dit het nie ’n ekonomiese invloed wat ons moet bekamp nie.” Ook mytbeheer (veral rooispinmyt en Bryobia) het afgeneem. “Die afgelope droë seisoen het ons sekere kultivars een keer bespuit, maar basies as veiligheidsmaatreël om aan uitvoerregulasies te voldoen. Uit ’n boomoogpunt was dit regtig nie nodig nie.” Danksy hul grond- en boomgesondheid, glo Hendrik hulle het ’n noodsaaklike stresbuffer in die grond geskep. “Wat bedoel ons met ’n stresbuffer? Dis ’n groter wortelstelsel met meer suurstof en water in die grond, wat beteken die gewasse kan stres beter verdra. Ons kon die afgelope drie seisoene in die droogte met minder water oor die weg kom en steeds ’n goeie oes afhaal.”

GOEIE NEMATODEBEVOLKINGS


Hendrik sê daar het ook skuiwe plaasgevind in die tipe nematodes wat in hul grond voorkom. Daar is byvoorbeeld minder plantparasitiese nematodes (soos die lesion-nematode) en meer bakteriese voeders, swamvoeders, omnivore en roofnematodes (sien GRAFIEK 2 ). “Ons het geen behandeling gedoen teen nematodes op die dele met grondbedekking nie, maar wel op die kontroleblok. Steeds het ons meer om te beheer in die kontroleblok as elders. Om niks te doen nie, was dus eintlik beter.”

ZZ2: Die vele voordele van volhoubare vrugteboerdery
ZZ2: Die vele voordele van volhoubare vrugteboerdery
ZZ2: Die vele voordele van volhoubare vrugteboerdery

Copyright 2023