Oor die Bokveld se stories, streke en karakters kan mens sekerlik ‘n dik boek skryf. Net in een familie kom mens Piet Kalifornië, Piet van Die Bos, en Piet Parlement teë. En nou ook, hoewel aangetroud, Pierre du Toit. Of soos baie hom ken, Oom Pierre. Op 80 het die passievolle afgetrede vrugteboer ‘n ou koelkamer op die plaas Bokveldskloof in, soverre sy kennis strek, in die eerste sagtevrugtemuseum in die land omskep. Dit is ‘n museum-in-wording, sê hy, maar daar is alreeds genoeg om te sien, om die uitry oor die Gydopas die moeite werd te maak.
Van die indrukwekkende 1914 National dieselenjin, ’n 1934 McCormick Deering (het geroes onder n peperboom gestaan) en Fendt-trekkers, ’n werkende appelgradeer-en sorteerder van 1935, asook ‘n gifspuitpomp uit 1888! Dan is daar plukmandjies en sakke deur die eeue. ’n Hele outydse weerstasie met die ou windmeter van die Dutoitsklooftonnel “hy werk nog”, snoeiskêre, implemente, lere en grawe. En so paar jaar gelede het die PPECB hulle hele versameling oudhede, soos skale, stempels, boeke en mikroskope, ook aan Oom Pierre geskenk.
Die versameling van oudhede het nie gister begin nie, maar is seker nou al die afgelope vyf, ses dekades sy stokperdjie, sê hy. Een van sy eerste groot projekte was toe hy ’n 1934 McCormick Deering gekoop en reggemaak het.
“Maar eintlik het ek nog altyd ’n belangstelling in ou goed gehad,” sê hy. “As ’n mens boer het mens nie baie tyd nie en jy moet daarteen waak dat jou stokperdjie jou nie van die plaas af weghou nie, want dan kan ‘n boer maklik sy anderding sien.”
Sy paaie het dan ook op ’n keer gekruis met ’n ene William Loock van Graaff-Reinet wat op daardie stadium die grootste privaatmuseum in die land besit het. Oom Pierre het hom gevra “nou wanneer is ’n ding oud?” waarop Loock geantwoord het: “Enige iets wat in onbruik raak het ’n versamelingswaarde, soos ’n pen van gister wat nie meer lyk soos een van vandag nie, dan bêre ek hom, want môre maak hulle hom nie meer nie.”
Wat vir ander rommel of ’n stuk geroeste yster was, was vir Oom Pierre kosbare skatte. Op ’n toer deur die museum verduidelik hy hoekom hy by Jan van Riebeeck en die kompanjiestuin begin. “Was dit nie vir die halfwegstasie en die behoefte aan vars groente en vrugte nie, was ons nie vandag hier nie.”
Buiten die verstommende versameling oudhede is Oom Pierre ook ‘n versamelaar van antieke appelvariëteite. Hy het in 2013 sy eie historiese boord langs die oorspronklike plaashuis op Bokveldskloof geplant en spog vandag met meer as twintig variëteite uit die verlede, soos Rome Beauty, Tjeek, Isaac Newton en Ripston Pippen. Die museum en erfenisboord wil hy graag aan sy oorlede skoonpa opdra.
Die jong Pierre du Toit het in 1964 met Elna Cillié van Bokveldskloof getrou en vir haar pa op die plaas kom werk. Elna is ’n nasaat van die bekende Piet Kalifornië wat in 1893 op aanbeveling van die Wellingtonse Vrugtekwekersvereniging deur die Departement van Landbou na Kalifornië in die V.S.A. gestuur is om meer oor vrugteverbouing te leer. Met sy terugkeer het hy as Piet Kalifornië bekend gestaan. Vandag vertel Oom Pierre is hy baie trots op sy seun Retief wat die vrugteleisels oorgeneem het. Bokveldskloof is sedert 1995 in vennootskap met ZZ2 en hy verseker my dat ten spyte van die droogte, die Kanzi’s vanjaar uitstekend lyk. “Mens sien meer appels as boom.”
Van die droogte gepraat…het vandagse boere meer uitdagings as vroeër? Oom Pierre dink diep: “Die jong boer van vandag het unieke uitdagings, maar uitdagings was nog nooit vreemd aan boerdery nie. As ’n klein tienjarige seuntjie het ek my pa die vroeë perskes self sien pluk. My ma het elke perske sorgvuldig toegedraai en in kissies gepak. Ek onthou die lang, stowwerige 45 myl rit met die 1945 Ford-bakkie, die kronkelpaaie van Gydopas wat nog nie geteer was nie – gevaarlik en hoog. In Ceres het ons die perskekissies op die trein gesit na die mark, die onbekende in. Dit is ver verwyder van die gevorderde logistieke waardeketting van ons vrugtebedryf vandag!”
Boere het nog nooit teruggedeins vir uitdagings nie, meen Oom Pierre, ‘n boer maak tog ‘n plan. “Ons gaan moet anders dink oor water, en ons waterbronne anders bestuur as in die verlede, met minder moet klaarkom, meer effektief moet boer. Tye is moeilik maar dit is my opinie dat hierdie ’n wonderlike uitdaging vir ’n nuwe generasie landbouleiers is en dit mag selfs net die rigting aanwys vir ander groot bedrywe om ons na te volg en sodoende volhoubaarheid vir geslagte na ons te verseker,” sê hy.
Later toe ons nog ou appelbome op die Loch Lynne-pad gaan soek sê Oom Pierre, terwyl ons in die rigting van die gehawende bossie met die klein, rooi appeltjies stap: “Ek dink daar is nog ‘n goeie toekoms vir jong boere in die land, maar daar is ook heelwat wat hulle nog moet leer. Ek sien te dikwels hoe die jong manne wanneer dit goed gaan karre koop en huise bou. Dis ‘n langtermynstorie die. Jy moet ook so dink.”
Een ding is seker, om ‘n boer te wees vandag, moet mens net so taf wees soos die appelboompies wat ten spyte van die droogte en sonder enige water vir dekades lank hier teen ’n helling in die genadelose Bokveldson oorleef…en steeds vrugte gee.
Gepubliseer op https://www.hortgro.co.za/news/eerste-sagtevrugte-museum-op-bokveldskloof/
Teks & foto’s: Elise-Marie Steenkamp op www.hortgro.co.za
Copyright 2023